|
|
In 2000 het Mariette Breytenbach die Marine Protea Hotel gekoop wat toe onder likwidasie was. Mariette het op 01 Augustus 2000 die hotel oorgeneem en die naam verander na Lambertsbaai Hotel. Die hotel is gegradeer deur die Toerisme graderingsraad en het drie sterre ontvang. Dit is nou nege jaar later en Mariette se lede blomme–seisoen, maar sy kyk glad nie terug nie en is baie gelukkig en het 'n groot passie vir Lambertsbaai. Die Lambertsbaai Hotel is ryk aan geskiedenis en is al sedert 1888 in bedryf. Op 'n stadium was die Poskantoor, kliniek en biblioteek alles deel van die hotel. Natuurlik, het al die personeel ook permanent in die hotel tuis gegaan. Toerisme het eers in 1954 pos gevat toe die eerste blomme–toere in die hotel begin bly het.
Die hotel speel 'n groot rol in die dorp en verskaf werk aan 30 mense. Mariette is die voorsitter van Lambertsbaai Toerisme en verteenwoordig Toerisme op die Wykskomitee van die Cederberg Munisipaliteit. Sy is ook voorsitter van die Kreeffees Komitee wat jaarliks duisende besoekers na Lambertsbaai toe lok. Hierdie fees vind volgende jaar gedurende 22–25 April plaas dus moet jy vroegtydig bespreek as jy vir Lambertsbaai wil kuier gedurende die Kreeffees. Die hotel bestaan uit 47 kamers wat familiekamers ook insluit. Hulle het ook een suite wat onlangs oorgedoen is met 'n spa–bad. Die meeste kamers het 'n see–uitsig en 'n balkon. Die hotel se binnehuis restaurant bedien heerlike seekos, steaks en ander lekker disse en is bekend vir hulle heerlike buffets wat hulle van tyd tot tyd voorsit. Daar is 'n aparte ligte middagete spyskaart met toebroodjies, tramazzini's en wraps, asook kalamari, vis en hamburgers. Hulle gerookte snoek patee met Rooibosteebrood is 'n wenner. Ontbyt word elke oggend in die restaurant bedien en is ingesluit by u akkommodasietarief. Die hotel is ook toegerus met 'n swembad en kroeg. Spesiale spa–behandelings an maseerings kan binnehuis gereel word op bespreking. |
|
|
|
|