Misdaad is deesdae ook ‘n realiteit vir Stellenbossers. Sielkundige trauma is in essensie ‘n bedreiging van die psige se integriteit of “heel–wees” en is ‘n algemene, maar dikwels onderskatte uitvloeisel van misdaadvoorvalle. ‘n Kombinasie van simptome soos die volgende kan na ‘n traumatiese voorval verwag word:
- Skok, hartseer, depressiewe gemoedstoestand, intense woede, blaam, skuldgevoelens
- Spanning, angs, vrees, ‘n staat van hiper–opwekking (insl. slapeloosheid, aptytversteuring, konsentrasiesteuring, irritasie, woede– uitbarstings
- Ontstellende herlewing van die voorval (bv. terugflitse, gedagtes, beelde, drome)
- Intense distres en fisiologiese reaksie by blootstelling aan enige element wat aan die trauma herinner
- Vermyding van stimuli wat met die voorval verband hou en / of afstomping
- Kinders mag nagmerries met ‘n nie–spesifieke inhoud/ tema ervaar, en / of die voorval herhaaldelik in gedrag of spel voorstel
Post–Traumatiese Stressteuring (PTSS) kan gediagnoseer word indien ‘n sekere kombinasie van simptome langer as vier weke voortduur. Niemand is gevrywaar van sielkundige trauma na ‘n misdaadvoorval nie, en selfs ooggetuies van ‘n voorval kan ‘n post–traumatiese stresreaksie toon. As jy ‘n misdaadslagoffer is:
- Erken die voorval en deel emosie daarrondom met ‘n vertroueling
- Onthou dat post–traumatiese stressimptome normaal en tydelik kan wees
- Maak gebruik van konstruktiewe streshanteringsmiddele soos meditasie, gesonde lewensstyl, ondersteuningsgroepe en betrokkenheid by misdaadbekampingsprojekte
- Hervat so gou moontlik ‘n normale dagroetine
- Vermy drastiese lewensveranderende besluite
Kognitiewe gedragsterapie kan kliniese simptome verlig en ook help om‘n slagoffer–mentaliteit, wanpersepsies, irrasionele verwagtinge en aannames rondom die insident aan te spreek. Oorweeg beslis professionele hulp indien ‘n traumaslagoffer dreig om hom– of haarself of ‘n ander persoon leed aan te doen, kontak met realiteit verloor en / of die intensiteit van simptome nie geleidelik na
die voorval afneem nie. Liezl van Rooyen is ‘n geregistreerde Kliniese Sielkundige en psigoterapeut in Stellenbosch met ‘n elangstelling in trauma en kognitiewe gedragsterapie.
Epos haar by: lvrpsychotherapy@gmail.com |